GENADEKIND VAN GOD
Die onderstaande is 'n getuienis tot eer van Onse Here Hesus Christus wat Hy in die lewe van 'n sondige mens kom doen het uit Sy groot genade. Die getuienis bevat net sommige van Sy groot dade in my lewe, daar is veel meer as wat hier beskryf word. Aan onse God (Vader, Seun en Heilige Gees) alle eer alleen.
Dank ook aan Esta Jefferies wat die taalkundige versorging vir my gedoen het en aan my vrou Annette wat my nog altyd bygestaan het.
GENADEKIND!
’n VERHAAL VAN GOD SE GENADE
1. Inleidende gedagtes
2. Kinderjare
3. Kerkervaring
4. Huwelik
5. Wedergeboorte
6. Uitstaande gebeure en ervarings
Beskerming
Genesings
Voorsiening
Wonderlike gebeurtenisse
Lewenskrisisse
7. Roeping tot die Bediening
8. Die Bediening
9. Aftrede
10. Bykomende inligting
1. Inleidende gedagtes
Hierdie verhaal handel oor God se genade oor my, ’n eens verlore sondaar. Dit vertel van dinge wat ek op my lewenspad ervaar het. Ek het sommige ervarings opgeteken kort nadat dit gebeur het, vir ander moes ek op my geheue staatmaak.
Daar mag moontlik kritiek wees oor my aanhaling van Skrifverwysings. Party mense mag voel dat my omgaan met die Skrif (i.e., ten opsigte van my persoonlike verwysing daarna), nie teologies korrek is nie. Hulle mag voel dat ek die Skrif buite konteks gebruik, en dat dit nie toegepas kan word op ’n mens se lewe nie. Ander mag sê: Jou eksegese is nie korrek nie. My reaksie op hierdie besware is: ek maak dit geensins van toepassing op ander gelowiges se lewens nie en ek maak dit nie ’n leerstelling nie. Wat ek hier met u deel, is my persoonlike ervarings. Ek glo van harte dat alle lering suiwer van uit die Skrif gedoen moet word.
Indien ons sou kyk na mense soos C.H. Spurgeon (die prins van predikers), sou u met my kon saamstem; ook dat ’n mens nie jou stempel van absolute goedkeuring kan plaas op die eksegese van dit wat in sommige van sy preke gelees word nie…
Wanneer ek terugdink aan die jare in die Afrikaanse Baptistekerk (insluitend my jare as lid van die Uitvoerende Komitee) en as ek luister na ’n paar mense se Skrifaanhalings rakende die getuienis van hulle roeping, kan daar sekerlik van sommige van hulle ook gesê word: “Buitekonteks” of “NieTeologies korrek nie” of “Swak eksegese,” ensovoorts.
Ek ondersteun nie die blantante verdraaiing van die Skrif nie. Ek maak ook nooit my eie ervaring belangriker as die Skrif nie. Tog weet ek dat daar baie dinge is wat ek nie verstaan nie:
“Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.”(1Kor. 13:9).
“Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”(Jes. 55:8,9).
Deur die genade van ons Here Jesus Christus handel hierdie vertelling oor my eie ervarings op my lewenspad. Dit is net mý eenvoudige weergawe van my ervarings met Christus, en dit in die lig van die Skrif.
Alle eer en lof en danksegging aan die Here onse God.“Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.” (1Kor. 1:31).“Maar wie roem, moet in die Here roem.” (2Kor. 10:17).
Daar is baie mense wat ’n leidende rol in my vorming en in my lewe gespeel het. In hierdie skryfstuk wil ek graag met groot dank en in alle nederigheid na hulle verwys.
Let asseblief daarop dat ek die gebeurtenisse wat hier beskryf word, gegroepeer het. Dit is dus nie altyd in kronologiese volgorde nie.
2. KINDERJARE
Soos deur God bepaal, is ek op 3 Mei 1954 in Suid-Afrika gebore. Ek is gebore in’n tyd in die geskiedenis waar armoede aan die orde van die dag was; ’n tyd waarin daar baie moeilike dae was. Dit was egter ’n normale deel van die lewe wat ek geken het.
Ek was een van ses kinders waarvan my broer vroeg oorlede is. My pa was’n hardwerkende man en my ma het haar kinders fisies goed versorg. Ons was tradisionele kerkmense, dus het ons aan ’n kerk, die Nederduitse Hervormde Kerk van Suid-Afrika, behoort. Alhoewel my ouers selde dienste bygewoon het, het my ouers ons kinders verplig om die Sondagskool en later ook kategese klasse by tewoon.
My ouma was die een van wie ons geestelike opvoeding gekom het. Sy het by ons gewoon. Tydens die Anglo-Boereoorlog, die Drie-jarige oorlog tussen die Boere en Engeland, was Ouma ’n jong dogtertjie. Sy was saam met haar ma en die ander kinders – net soos baie ander boerevroue en -kinders – in die konsentrasiekamp.
Ouma het ons saans na haar kamer toe geroep. Ons het dan op haar groot ou katel (bed) gespring. Ouma het dan vir ons uit die Bybel gelees. Dit was ook sy wat ons geleer het om aan tafel te bid voordat ons eet. Ouma het hoofsaaklik vir my en my oudste suster gevra om voor ete te bid.’n Mens kan eintlik sê dit was ons twee se verantwoordelikheid. Ek onthou nou nog die bekende Hollandse gebed: “Segen Vader, segen ete, laat wij nimmer U vergete. Amen.”
Aangesien my pa by tye van werk verander het, moes ons gesin’n paar keer trek. My pa het eers vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk, maar het later oorgegaan na die goudmynbedryf.
Ek is gebore terwyl my ouers in Edenvale gebly het. Na my geboorte het ons na verskeie dorpe verhuis, o.a.Theronkoppe in die Vrystaat, Knights (naby Germiston), Springs, Evander en dan – die langste – op Eendrag (nou deel van Leandra).
Ons Badenhorsts het vir die grootste deel van my kinderjare – tot en met matriek – nooit elektrisiteit gehad nie. Daar was nie in ons huis iets soos ’n yskas of enige ander elektriese ware nie. Ek onthou nog soos gister my daaglikse pligte: hout kap, kole indra en droë beesmis optel en aandra kombuis toe sodat ons kon vuurmaak in die koolstoof. Selfs ons water moes op die stoof warm gemaak word. Dan moes ons die water aandra badkamer toe sodat ons kon was.
Gedurende die somer moes ons groente plant. Die groentetuin was so groot soos twee van vandag se dorpserwe. Water moes met emmers aangedra word om die tuin nat temaak – en ek moet sê dit het ons fiks gehou.
Daar was volop vrugtebome op ons grond; ook pluimvee: hoenders, makoue, eende en kalkoene. Daar was ook duiwe. Een van my take was om te sorg dat die pluimvee en duiwe daagliks kos en vars water kry. Verder moes ek ook elke dag omsien na die honde en die varkie wat tot slagdag in ’n hokkie aangehou is.
My dae het soos volg verloop: soggensvroeg, voordat ek die bus skool toe moes haal, moes ek eers die melkkoeie na die munisipalekamp jaag waar hulle gedurende die dag gewei het. Dit het ons vyf sent per maand per bees gekos om hulle daar te laat wei. Dan moes ek hulle na skool om vieruur weer gaan haal sodat hulle gemelk kon word. Ek kon eers met my huiswerk begin nadat ek my daaglikse pligte afgehandel het.
Tydens my leeftyd het ons land van die Unie van Suid-Afrika verander na die Republiek van Suid-Afrika. Ter viering van hierdie gebeurtenis het ons vlaggies, bekers en medaljes ontvang.
Ons kinders het daagliks melk, sap, vrugte, ensovoorts by die skool gekry. Dit was omdat daar wydverspreide ondervoeding was, aangesien die Afrikaners oor die algemeen baie arm was. Na die groot droogte en die depressie kort na die oorlog, het die meeste boere hulle plase verloor. Die mans moes stad toe gaan om op die myne te gaan werk vir ’n inkomste sodat hulle hulle gesinne kon versorg.
Gedurende ons kinderjare is kinders ingeënt teen pokke. Ons moes ook die polio-slukstof kry. Die merke van die pokke-inenting is nou nog sigbaar op die arms van die geslag wat daardie tyd kinders was.
Op skool is ons nog geleer van padveiligheid en persoonlike higiëne, gesondheid en netheid. Daar is elke dag inspeksiegehou om te sien of die kinders se naels skoon en netjies was.
Suid-Afrika het ook gedurende hierdie tyd, i.e. aan die begin van die 1960’s, oorgeskakel van die Britsegeldstelsel van ponde, sjielings en pennies, na rand en sent. Ons het eers in later jare oorgeskakel na die metriekestelsel van mate en gewigte. Ek onthou nog duidelik dat sommige van die vrae in my matriek-vraestel in myl, treë, voet en duime was. Van die ander vrae was weer in kilometers, desimeters, meters, sentimeters en millimeters. Dieselfde het gegeld vir volumes en oppervlaktes, akkers en hektare, liters, punte en gellings en wat daarmee saam gaan.
Toe ek ’n kind was, was die pryse van handelsware baie anders as wat dit nou is. By een winkel het ons nog ruilhandel gehad: ons kon byvoorbeeld by die winkel hoendereiers ruil vir suiker. Petrol was toe nog 25 sent per gelling (sowat 4,25 liter). Daardie tyd kon ons nog ’n melkkoei koop vir R150.00 en ’n groot slagskaap vir R9.25.
In 1971 het ’n motor een rand per cc gekos. ’n 1200-motor het dus R1,200.00 Rand gekos en ’n 3-liter voertuig R3,000.00. Huispryse op ons dorp het gewissel tussen R3,000.00 en R5,000.00. Daar was in ander dorpe huise wat nog goedkoper was.
Toe breek my jongmenslewe aan. Dit was ’n lewe van verpligte weermagopleiding: eers vir ’n jaar en later vir twee jaar. Eers daarna kon ek gaan studeer of werk. My eerste salaris was ’n hele R82.00 per maand – nadat ons in die weermag darem R12.50 per maand verdien het. Maar meer oor hierdie lewe later.
Deur die genade van die Here Jesus het ek deur my kinderjare gekom. Alle eer aan Hom vir Sy genade!
3. KERKERVARING
Ek het reeds genoem dat ons “kerkmense” was. Ek is as baba gedoop (besprinkel) en het so ’n dooplidmaat van die kerk geword. Soos ek sê: ons het in die kerk grootgeword en was verplig om elke Sondag Sondagskool toe te gaan en later om Kategese by te woon.
Gedurende my kinderjare het ek heelwat “geestelike ervarings” in en van die kerkgehad. Ons kinders moes tydens dienste absoluut stilsit en net op die predikant fokus. In die Sondagskool het ons baie uit die Skrif geleer. Dit het ’n goeie basis in my lewe gelê. Later moes ons die Heidelbergse Kategismus en die Formuliere van Drie Eenheid leer.
Toe ek op ’n keerop’n CSV-kamp was,het ek die eerste keer te doen gekry met geestelike liedere wat nie Psalms of Gesange was nie. Dit was ook by die CSV wat ek die eerste keer met evangeliese traktaatjies te doen gekry het. In reaksie op daardie ondervinding wou ek ná skool ’n predikant word. Daardie begeerte het egter sommer gou-gou weer soos mis voor die son verdwyn.
Ons kerkleiers het eenkeer ’n jeugkamp gereël. Die kamp is oor ’n naweek op Badplaas gehou. Die manne is in een groot tent gehuisves en die jongdames in ’n ander een. Voor ons manne se tent is daar ’n streepsak vol bier opgehang. Ons kon onsself so dikwels as wat ons wou, self help. Daar is’n program gereël wat speletjies en ander vermaak ingesluit het. Ek kan glad nie onthou dat daar daardie naweek enige lering uit die Bybel was nie – heel waarskynlik omdat daar nie so iets aangebied is nie...
Ons het in ons matriekjaar ‘gekatkiseer’ en is toe aangeneem as kerklidmate en aan die gemeente voorgestel. Ek moet tot my skande erken dat ons gesê het: “Ons het nou ons dranklisensie gekry,” bedoelende die reg om die nagmaal te gebruik. Na ons mening het ons nou die groenlig gekry om sterkdrank te gebruik. Die Vrydagaand na ons “Aanneming” het ons dit dan ook by die naburige dorp se hotel gaan vier...
Die Sondag wat ons belydenis van geloof afgelê het, het elkeen van ons die belydenis in gedrukte vorm ontvang. Toe ek jare later weer daarna kyk, was ek geskok: ek het nie regtig geweet wat ek bely het nie. Van wedergeboorte en geloof in Jesus Christus het ek toe niks geweet nie, maar ek was ’n volwaardige lidmaat van die gemeente!
Ek het ervaar dat daar heelwat politiek in ons kerk was. Ons leraar het aan die Hervormde Party behoort en die een ouderling aan die Nasionale Party.Dit is natuurlik voor die hand liggend dat dit spanning veroorsaak het.
’n Ander ervaring wat ek in die kerk gehad het, was toe my pa tot diaken verkies is. Ek moet nou noodwendig aflei dat dit seker was om hom meer betrokke te kry by die kerk. Hy het sy wit das gaan koop en was reg vir die taak. Na ’n klaarblyklike familietwis het hy die amp egter van die hand gewys.
Ek het my pa nooit hoor bid of gesien dat hy Bybel lees nie. Deur die genade van die Here het hy egter drie dae voordat hy oorlede is die Here Jesus as sy Verlosser aangeneem. Ons kon toe vir die eerste keer as pa en seun oor die Woord van God gesels.
Die term “Kerk” was vir ’n groot deel van my lewe slegs’n verbintenis met ’n gemeente en – by geleentheid – die bywoon van ’n erediens. Deur die genade van die Here Jesus Christus het dit egter later drasties verander.
4. HUWELIK
Ek slaan vir eers ’n paar jaar van my lewensreis oor, een waarin ek in die weermag was, verskeie betrekkings by verskeie maatskappye beklee het, ensomeer.
In my verhoudings met die teenoorgestelde geslag was ek nou nie juis wat ’n mens “suksevol” sou noem nie. Op skool en daarna het ek ’n paar oppervlakkige verhoudings gehad. Op 19-jarige ouderdom het ek verloof geraak aan ’n ou skoolvriendin. Sy wou egter meer uit die verhouding hê as ek: ek wou wag totdat ons eers getroud was, sy nie. Dit het gelei tot die einde van die verlowing. Alhoewel ons reeds meubels gekoop en geld gespaar het vir wat vir ons voorgelê het, het alles tot niks gekom.
Toe ek 20 was, het ek een aand vir Annette ontmoet. Sy sou my vrou word. Sy was 19 jaar oud. Dit het nie lank geneem voor ons getroud is nie. Ons is sommer by die landdroskantoor getroud – met net twee getuies. So het ons huwelik begin en deur die genade van die Here hou dit nou al vir 47 jaar (2021).
Maar die eerste drie jaar van ons huwelik was sonder Christus.
Ons huwelik het ook maar sy goeie - en slegte tye gehad; veral die eerste drie jaar. Toe Jesus egter deel word van ons lewens, het dinge verander en stelsel-matig het dit beter en vol vreugde geword. Uit hierdie huwelik is drie kinders gebore. Ons dank die Here vir elkeen van hulle.
Ons seun Lourens is die oudste. Ná hom is Anné gebore en na haar Hantie. Ons het later nog ’n seun aangeneem. Sy naam is Jacques. Hy is gebore uit ons harte, nie uit die huweliksverhouding tussen my en Annette nie. Oor hom sal ons later meer vertel.
Ek eer die Here Jesus vir ’n vrou soos Annette. Ons is ook dankbaar vir die feit dat ons huwelik so geseënd is. Aan Hom al die lof en eer.
5. WEDERGEBOORTE
As ’n jong volwassene, het ek maar rondgeval. Ek het aanvanklikby verskeie maatskappye gewerk, waar-onder die Suid-Afrikaanse Spoorweë en die drankhandel. Op ’n stadium is ek egter weer terug weermag toe. Ons twee dogters is gedurende hierdie ampstermyn by die weermag, gebore. (Ons oudste dogter in Pretoria en ons jongste in Kimberley)
Ons het op ‘n stadium in Silverton (Pretoria) gewoon, in ’n weermag woonstel. Terwyl ons daar gebly het, het iemand van tyd tot tyd getikte A4-bladsye onder ons deur deurgestoot. Dit was boodskappe oor die liefde en genade van die Here Jesus Christus.
Juis gedurende daardie stadium van my lewe het ek ’n boek oor positiewe denke gelees. Die Bybel verse wat in hierdie boek aangehaal is, het tot my gespreek. Vandag besef ek dat die lering in die boek glad nie goeie, soliede lering was nie, daarom noem ek eerder nie die titel van die boek, of die outeur nie.
Die weermag het my Kimberley toe verplaas. Terwyl ons daar was, is ek Suidwes-Afrika (tans Namibië) toe gestuur om diens te doen gedurende die sogenaamde “grensoorlog.” Die Kapelaan van die weermageenheid was ene Ds. Claude Stiglingh, blykbaar voorheen van die Baptist Church in Kimberley.
Ds. Stiglingh het die eenheid bedien met die Woord en ook kerkdienste waargeneem. Hy het in die aande Bybelstudies aangebied en boodskappe gebring. Een aand, in Junie van 1977, nadat ek my gebruiklike besoek aan die kroeg afgelê het, het ek besluit om een van hierdie byeenkomste by te woon. Die Here Jesus het my daardie aand ontmoet – en ek vir Hom! My lewe het vir ewig verander. Toe ek by die tent waarin die byeenkomste gehou is, uitstap, was daar’n geweldige begeerte in my hart om die Bybel te lees.
Die Bybelgenootskap het aan elke weermaglid ’n klein sakbybeltjie gegee, dus het ek ’n Bybel gehad om te lees.
Ons is as kinders geleer dat die Bybel ’n heilige boek is en dat ’n mens nie daarin kon skryf nie. Ek was egter voor ek myself kon kry, besig om aantekeninge in die Bybeltjie te maak. Dit het my in konflik gebring met ’n baie konserwatiewe vriend van my. Hy was,alhoewel hy godsdienstig was, ongered.
Ek het eers later geleer wat dit was wat ek daardie aand in die tent ervaar het. Deur die genade van die Here Jesus Christus het ek daardie aand vergifnis van sonde ontvang. Ek het die wedergeboorte waarvan Jesus in Johannes 3 praat, gesmaak. Daardie aand het my hele lewe verander. Alle eer aan die Here Jesus Christus wat ’n sondaar soos ek uit genade gered het.
Later het ek gedink aan ’n ou tante wat ek geken het toe ek ’n kind was. Sy was ’n vriendin van my ouma en was bekend in ons dorpie. Sy was’n persoon van aansien in die kerk. Nadat sy tot bekering gekom het,het syegter ons kerk verlaat. Die hele dorpie het gegons oor Tannie Venter wat tot bekering gekom het. Dit was iets wat vir ons vreemd was. Ek sou haar jare later weer op Evander sien. Sy was daar’n lidmaat van die Baptistekerk.
Terug in Suid-Afrika het ek dadelik die evangelie met my vrou gedeel. Sy het ook tot redding gekom. Ons het by die Baptistekerk in Kimberley aangesluit en ek en my vrou is daar gedoop en opgeneem as lidmate. Ek het begin help in die Sondagskool. Ek en die leraar, Ds. Pieter Raubenheimer, het vriende geword.
Ons eer die Here Jesus Christus vir Sy genade oor ons.
6. UITSTAANDE GEBEURE EN ERVARINGS
Soos ek vroeër genoem het, is dit wat ek opteken nie in chronologiese volgorde nie. Ek het dit anders gegroepeer.
BESKERMING
Ek en Annette het deur die jare heen die Here Jesus se beskerming op en oor ons lewens ervaar. Hier volg kortliks legs’n paar voorbeelde van Sy beskerming in my lewe.
’n Handgranaat ontploffing
In 1977 was ek betrokke by die weermagopleiding van dienspligtiges in Kimberley. Ek het opleiding gegee in die basiese dissiplines van die weermag: dril, veldkuns, skietkuns, ensomeer. Op ’n dag het ons die manne geneem vir praktieseopleiding in die gebruik van handgranate.
Ek het in die skuiling by die kratte handgranate gesit waar ek besig was om hulle gereed te kry.Ek het die lonte in die granate geplaas en dit dan aan die troepe gegee wat dit sou gooi. Hulle moes die granate uit die sandsakskuiling na buite gooi waar dit dan ontplof het.
Alhoewel dit teen die beleid was, het ons, asgevolg van min tyd en die groot aantal troepe wat elk ’n beurt moes kry, besluit om twee troepe op ’n slag te laat gooi.
Een van die troepe was op die dag van ie teoretiese opleiding oor die gebruik handgrate in die siekeboeg. Hy het dus nie geweet hoe om ’n handgranaat te hanteer nie. Toe dit sy beurt was omsy handgranaat tegooi, het hy gedink hy moes dit gooi soos ’n diskus-gooier ’n diskus sou gooi. Een van die instrukteurs het gedink die troep gaan die handgranaat in die verkeerde rigting gooi en het sy hand vasgegryp. Die granaat het sowat ’n meter-en-’n-half van my af geland...
Daar was vyfmense binne die skuiling: twee troepe, twee instrukteurs en ekself. Ek was oortuig daarvan dat een handgranaat nou buite en een binne die skuiling was en dat van die manne beslis in gevaar was. My een vriend het oor my geduik na buite die skuiling. Die twee troepe en die ander instrukteur het oor die muur gespring na buite.Toe sien ek die handgranaat rook waar dit geval het.
Daar het ’n honderd-en-een gedagtes deur my kop geflits. Moet ek die granaat gryp en dit buitentoe gooi? Maar daar was manne buite... Moet ek myself op die granaat gooi?D it was onnodig want almal was nou reeds buite – en wie wil ’n dooie held wees? Moet ek myself ook na buite haas? Daar was nie genoeg tyd nie.
Binne die skuiling was daar ’n kort ‘muurtjie’ van sandsakke. Ek het my lyf gedeeltelik agter die sandsak-muur ingewurm, my hande oor my kop gesit en bly lê. Die handgranaat het ontplof. Omdat die skrapnel teen ongeveer 45 die lug inblaas, het daarvan oor my getrek.
Maar waar was die tweede handgranaat?
Die ander troep het die granaat net daar bo-op die sandsakmuur gelos toe hy uit die skuiling spring. Dit het daar ontplof en die skrapnel het vandaar af die lug ingeblaas.
Toe ek buite kom, het ek verwag om oral beseerde troepe te sien. Nie een van hulle is egter deur die skrapnel getref nie. Ook my lewe is gespaar. Slegs die Here kon dit in Sy groot genade bewerk.
Op daardie stadiumhet ek nog nie die Here Jesus as my Verlosser geken nie. Het ek daar gesterf, sou ek vir ewig verlore gewees het – in die hel. Tog het ek reeds hier die beskerming van die Here Jesus beleef.
’n Onbekende aanvaller
Ek en Annette was reeds getroud toe ons een aand in Benoni stasie toe stap. Op pad het ons eers by ’n winkel langs geloop en toe besluit om sommer kortpad te vat deur die veld. Ek het vinniger as Annette die pad oorgesteek, verby ’n poel water. Toe ek omkyk om te sien waar sy is, sien ek dat ’n aanvaller Annette om die nek beet het. Hy het ’n stukkende bottel dreigend teen haar kop gehou.
Ek het, sonder om te dink, omgevlieg, Annette se aanvaller stormgeloop en begin slaan. Die man het met die gebreekte bottel na Annette se gesig gemik. Deur die Here se genade kon sy betyds met haar handsak keer vir haar gesig. Die handsak was flenters... Omdat ek my vrou se veiligheid belangrik geag het, het ek nie in ’n geveg met haar aanvaller betrokke geraak nie, maar haar eerder terug geneem na die winkel toe.
Ook hier het ons die Here Jesus se beskerming ervaar. Sy genade oor ons was – en is – groot.
Motorongelukke
Ek en Annette was in twee motorongelukke betrokke waarin ons lewens behoue gebly het – en sonder beserings. Ook hiervoor eer ons die Here Jesus.
Ander insidente wat in my geheue bly vassteek, kon maklik uitgeloop het op motorongelukke. Die Here het my ’n hele paar keer op Sy eie unieke wyse bewus gemaak van gevaarlike situasies. As gevolg van Sy groot genade kon ek die gevaar vermy. Alhoewel daar baie sulke gevalle was, wil ek slegs twee insidente beskryf.
Ek en Annette was in Secunda met die eerste geval. Ons moes op ’n stadium oor ’n brug ry Net na die brug het daarvan die linkerkant af ’n dwarsstraat aangesluit by die straat waarin ons op pad was. Toe ek daardie dag die dwarsstraat nader, sien ek ’n voertuig die kruising nader. Dit was skielik asof ’n stem vir my sê: “Hy gaan nie stop nie, hy gaan voor jou inry.”
Ek was gereed.
Die voertuig het toe voor my ingery, maar ek kon betyds die rem trap. Ek het nie geskrik nie, want ek is attent gemaak op wat sou gebeur. Annette het egter nie geweet nie en sy het natuurlik van skrik gegil. Ek het besef dat dit die Here was wat my voorberei het op wat sou gebeur. Hy het my gehelp om myself voor te berei en my daardeur gehelp om’n ongeluk te voorkom.
Die ander geleentheid was ook in Secunda. Ek en Annette was in die linkerbaan van ’n dubbelpad op pad. Die verkeerslig was groen vir my. Van my linkerkant af het ’n oertuig die verkeerslig genader en links gedraai by die toegeeteken. Ek was intens bewus daarvan dat hy nie sou stop nie, maar dat hy in my baan gaan indraai. Tog het ek vir myself gesê: “Hy sien my; hy sal stop.”
Wel hy het nie gestop nie. Ek kon op die laaste oomblik uitswaai na die regterbaan, want daar was geen voertuie in daardie baan nie. Ek was vies vir myself, want ek het betyds geweet dat die persoon nie sou stop nie en kon al vroeër van baan verander het. Die Here was ons weereens genadig. Hy is waarlik ons Beskermer en ons lewens is in Sy hand.
SASOL ontploffing
Ook in die werkplek was die Here my Beskermer; net soos met die handgranaatontploffing. Daar is nog baie insidente waarvan ek kan vertel, maar ek wil net by een stilstaan.
Sonder om te tegnies te raak, wil ek vertel van wat eenkeer gebeur het tydens die inbedryfstelling van ’n deel van die SASOL-aanleg. Nadat herstelwerk gedoen is, was ’n gaspyplyn onder druk gebring. Die gas is in die pyplyn ingevoer om dit op volle fabrieksdruk te kry vir die bedryf, maardie druk wou net nie styg nie.
Ek het met die pyplyn langs gestap om te kyk wat die probleem kon wees. ’n Dertig sentimeter afblaasklep het oopgestaan.Toe ek daar aankom, het dit alreeds’n gat van ongeveer 500 cm in die grond ingeblaas. Nog iemand het daar aangekom en toe ons die gat sien, het ons onsself uit die voete gemaak.
Ek was slegs’n paar meter weg toe die gas ontplof het, maar deur die Here se genade was ek betyds ver genoeg weg sodat ek nie beseer is nie. Die vlamme is ongeveer vyftien tot twintig meter die lug in geblaas. Ek het weereens die genadige beskerming van die Here Jesus Christus ervaar.
Daar is baie ander voorvalle wat ek nog onthou; almal gevalle waar ek vóór die tyd, terwyl ek in my kantoor gesit het, bewus geraak het van potensiële gevare binne, sowel as buite die aanleg. Ek kon elke keer buitentoe gaan en betyds aksie neem of laat neem om gevare te vermy.
Die feit dat ek in die gevalle hierbo, en nog die vele ander wat ek nie hier beskryf het nie, die gevaar ontkom het, is alles deur die Here se genade. Mens sal sê dat dit toeval is, of instink, of ’n voorgevoel. Ek weet egter – en is oortuig daarvan – dat alles uit die genade van die Here Jesus Christus is. Aan Hom al die eer.
GENESINGS
Genesing is soms ’n omstrede saak onder mense wat hulleself Christene noem; veral in die lig van die “voorspoedsteologie” wat so baie voorgehou word.
Voordat ek die volgende getuienis van Goddelike genesing gee (genesing deur Jesus Christus) wil ek egter eers iets anders noem.
Dokters het al baie kere medikasie voorgeskryf wat gelei het tot genesing. Ekself is onder andere genees deur medieseprosedures en ’n operasie wat ek ondergaan het. Daar was ’n hele paar daarvan. Ek glo dat God die medici ook daar gestel het om mense te help: Sy kinders asook mense wat nie in Hom glo nie. HY is ’n genadige God wat Sy reën oor almal laat val en Sy son oor almal laat skyn.
Tans gebruik ek medikasie: vir bloeddruk, Diabetes (Insulieninspuitings), ’n harttoestand en Cholesterol. Baie van hierdie toestande is dalk as gevolg van my eie agtelosigheid en lewenstyl. Nietemin is die Here Jesus goed vir my; ook vir my gesondheid.
Op ’nsekere stadium van my lewe het ek baie moeg geword en my liggaam het voortdurend gepyn. Dokters het verskeie soorte medikasie voorgeskryf, maar sonder die gewenste resultate.
Ek is getoets vir spierdistrofie, depressie en elke ander moontlikheid. Hierdie siektetoestand was op ’n tydstip wat daar deurbraak gemaak is in die identifisering van die ME-sindroom. Medici het geglo dat dit ’n siekte is waarmee ’n mens maar moet saamleef.
Gedurende hierdie tyd het my gesondheid wipplank gery: die een dag kon ek opstaan en berge versit, net om die volgende vier of meer dae op my bed deur te bring, te moeg om op te staan. Ek het nie die vermoë gehad om normaal te funksioneer nie. Gedurende hierdie tyd het ek by die ME-stigting aangesluit wat onder leiding van ’n Professor van die WITS Universiteit gestaan het. Pynpille en tonikums het my deur elke dag gedra.
Ons het gebid om genesing, maar daar was geen verbetering nie. Alhoewel ons weet wat die Skrif leer, is ons soms traag om op te tree. ’n Dame (Lynette Stuart) in die gemeente waar ek toe was, het my herinner aan die Skrifgedeelte in Jakobus wat sê datdie ouderlinge ingeroep moet word. Hulle moes die sieke kom salf en in geloof oor hom/haar bid.
Ek het die ouderlinge genader en die leiers het my tydens ’n erediens met olie gesalf en vir my gebid. Die volgende dag was ek blakend gesond; tot nou toe! Al die eer aan die Here Jesus Christus wat die mag het om te genees – deur gebed asook deur wonderwerke.
Dan was daardie wonderlike genesing wat my vrou ervaar het.
Annette het aan kwaai depressie gely en het selfs ’n aantal kere probeer selfmoord pleeg. Vandat sy ’n twaalfjarige dogtertjie was, het sy ’n aantal traumatiese ondervindings gehad wat gelei het tot depressie. Dit was so erg dat sy baie medikasie gebruik het. Die behandeling van Psigiaters en Sielkundiges het min, of eerder geen sukses opgelewer.
Annette was in verskeie klinieke in die Pretoria omgewing. Sy het onder andere ook “breinskokterapie” ondergaan wat basies bestaan uit elektriese skokke wat in ’n teater, onder mediese toesig, deur jou brein gestuur word; vier reekse van ses, of omgekeerd. Elke keer het sy teruggekeer huis toe – sonder enige teken van sukses. Die depressie het gebly.
Ons het baie oor haar depressie gebid en die Here se aangesig gesoek. Ek was moedeloos, maar het geweet dat die Here daar is vir ons. Tydens die laaste reeks “breinskok-terapie” het sy my geskakel en gevra dat ek haar moes kom haal. “Ek is gesond,” het sy gesê.
Op pad huis toe, het Annette haar ervaring met my gedeel.
Terwyl sy die vorige aand in haar bed was, het sy ’n stem hoor sê: “Ek maak jou gesond.” Dit was die Here wat gepraat het. Nou weet ek dat sommige mense skepties kan wees hieroor en baie verduidelikings kan gee van wat gebeur het. Die feit is: tot vandag toe, na omtrent 43 jaar, is sy steeds volkome genees van depressie. Jesus het haar gesond gemaak.
“’n Hoorbare stem?” vra jy. Samuel het die Here se stem gehoor, hoorbaar soos die stem van ’n mens. Annette het dit ook gehoor en sy is volkome genees van depressie. Sy het nooit weer behandeling nodig gehad nie: geen meer Psigiaters, Sielkundiges, of medikasie nie.
Hiermee keur ek nie mediese behandeling en medikasie af nie. Ek sê net: “Jesus kan nog genees.” Ons gee aan Hom al die eer en ons eer die Hom vir Sy genade oor ons.
VOORSIENING
Wanneer daar gepraat word van voorsiening, besittings, finansies en derglike dinge, het mense verskeie menings. Hier is ’n paar: “Jy moet in die geloof lewe”; “Jy moet selfversorgend wees”; “As dit pap reën, moet jy skep”; “Jy moet voorsiening maak vir jou oudag.” Daar is veel te sê oor die versorging van hulle wat die evangelie verkondig; veral as ons na die Woord van die Here kyk.
1 Tim. 5:17Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. 18Want die Skrif sê: Jy mag 'n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.
1 Kor. 9:9Want in die wet van Moses is geskrywe: 'n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer?10Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. 11As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit 'n groot saak as ons julle stoflike goed maai?
1 Kor. 9:14So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.
Tog moet ons weet dat die Here God is en dat Hy ons Voorsiener is.
Soms ontvang ons vreemde opdragte van die Here; opdragte wat medegelowiges dalk nie verstaan nie. Ek het vroeër gesê dat daar as gevolg van sommige Skrifverwysings wat ek gebruik het in hierdie getuienis, van my gesê sal kan word: “Verkeerde eksegese”, of “Nie op ons van toepassing nie”, of “Dit kan nie so gebruik word nie.” Dit mag waar wees, maar wat ek hieronder gaan deel, is nie ’n leerstelling vir ander Christene nie. Al wat ek wil doen, is om my ervaring en wandel met die Here Jesus met julle te deel.
Tydens die eerste vyf jaar van my bediening in Evander het ek by SASOL gewerk terwyl ek die gemeente deeltyds bedien het. Aan die einde van 1987 het die gemeente baie skuld gehad. Hulle kon geen bydrae aan die ABK gee nie en geen sendelinge ondersteun nie. As gevolg van my werk by SASOL terwyl ons die gemeente bedien het, kon ons die gemeente se lening by die Bougenootskap afbetaal. Ons kon ook die lening van R9,000.00 wat ons by die ABK gemaak het, terug betaal. Die bedrag het uiteindelik R 25,000.00 beloop.
Hierna kon die gemeente begin om maandeliks ’n bydrae aan die ABK te maak. Ons het ook sendelinge begin ondersteun. Alles was moontlik deur die genade en voorsiening van die Here.
Net ter insae: nadat al die gemeente se skuld afbetaal is en die finansies goed opdreef gekom het, het die gemeente’n vriend van my beroep. Ek het die gemeente saam met hom bedien terwyl ek steeds by SASOL gewerk het. Na ’nruk het ek bedank en was ek vir ongeveer 6 maande nie ’n leraar van die gemeente nie.
Op 23 Julie 1994, nadat die ander leraar die gemeente verlaat het, het ons ons intrek in die pastorie geneem en begin om die gemeente voltyds te bedien. My salaris was R 800.00 per maand.
Nadat ons drie oudste kinders reeds uit die huis was en die jongste, ons aangenome seun, nog op Laerskool, het iets vreemds gebeur.
Ek het oor ’n tydperk (September – Oktober 1996) tot die gewaarwording gekom dat die Here wil hê dat ek geen salaris van die gemeente moet neem nie. Dit was nogal vreemd, want ek het absoluut geen ander inkomste gehad nie. Weereens – soos ek vroeër genoem het – sou mense kon sê: “Jy kan nie so met die Skrif omgaan nie”; “Dit is swak eksegese” en “Jy kan dit nie op jou van toepassing maak nie.”
[Let op: Ek wil weereens beklemtoon dat ek nie ’n leerstelling hiervan maak nie.Ek deel bloot my ervaring in my wandel met die Here Jesus hier. Die Skrifgedeelte van die kraaie wat aan Elia kos gebring het, het ’n groot rol in my lewe gespeel. Dit het veral die gedagte om nie ’n salaris van die gemeente te neem nie, beïnvloed.]
Die volgende Skrifgedeeltes het die oortuiging in my hart laat groei:
Job 22:24En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir. 25Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.
Matt. 6:25-34 handel oor God en Mammon en oor die lelies van die veld en die voëls van die hemel en dan gaan dit verder.
Matt. 6:31Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?32Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 33Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 34Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.
1 Tim.6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.
Matt. 10:9 Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie;10geen reissak vir die pad of twee kledingstukke of skoene of 'n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd.
Annette het aanvanklik miskien nog getwyfel. Op ’n dag het sy egter na my toe gekom met die volgende Skrifgedeelte: “As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek.” (Joh. 7:17).
Ons het in 1996 ’n gemeente kamp gehad van 12 – 13 Oktober. Dit was tydens hierdie kamp wat die volgende vers tot my gespreek het: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here.” (Jes. 55:8).
Op 17 Oktober 1996 het die Here in die volgende vers tot my gespreek: “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van 'n ander.” (1Kor. 10:24).
“Dit moet nie hard in jou oë wees as jy hom as vry man van jou laat weggaan nie, want die dubbele loon van 'n dagloner het hy vir jou ses jaar lank ingedien; en die Here jou God sal jou seën in alles wat jy doen.”(Deut. 15:18).Veral die woorde:die Here God sal jou seën.
Terwyl ek die boek “Springs in the Valley”gelees het, was die volgende vers vir my ’n “waarskuwing”: “Maar ná verloop van tyd het die spruit opgedroog, want daar was geen reën in die land.” (1Kon. 17:7). Ek het’n aantekening in my joernaal gemaak en gedink: die stroompie geld wat ons ontvang, sal (moontlik) opdroog. Ek het dit later met die kerkraad gedeel.
Op 24 Oktober 1996 het die Woord tot my gespreek terwyl ek besig was om te bid: Werp al julle bekommernisse op Hom want Hy sorg vir julle. “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”(Luk. 14:33). Die volgende Skrifgedeeltes het die Woord bevestig:Luk. 16:9-13, Luk. 1614, 1 Joh. 3:17 en verder. Dit het vir my sekerheid en vrede gegee dat dit die regte besluit was.
Terwyl ek op 26 Oktober 1996 besig was om te bid, het ek tot die besef gekom dat ek meer gehoorsaam moes wees aan God. Ek het gewonder of ek dan die guns van mense of van God moet soek. Luk. 17:7-10 het my getref.
Ek het die besluit aan die gemeente deurgegee. Hulle wou dit nie aanvaar nie, maar het nogtans my besluit gerespekteer. So het die wonderlike, maar “vreemde” ervaring begin. [Onder die Byvoegsels aan die einde is daar ’n datum tot datum verslag van hoe die Here vir ons voorsien het].
Toe ek aan die einde van die volgende jaar aan SARS verslag lewer oor my inkomste, dat daar niks was nie, was dit vir hulle nie aanvaarbaar nie. Ek het toe die verslag waarin ek rekord gehou het van Christus se voorsiening, aan hulle gestuur. Daarmee was hulle tevrede. Hulle het sekerlik nog nooit so ’n belastingopgawe van iemand af ontvang nie.
Die Here het ons na ’n tyd bemoedig uit die Skrif:Luk. 22:35 (2 November 1996), Matt. 6:8 (5 November 1996) en ook Jes. 45:8. In die boekie “Springs in the Valley” word verwys na wat George Müller gedoen het om God se wil te ken. Dit verskyn ook in een van Andrew Murray se boeke oor gebed en verder in “Experiencing God” van Henry Blackaby (10 November 1996).
Gedurende die tydperk wat ons geen salaris ontvang het en ook geen ander spesifieke maandelikse inkomste gehad het nie, het ek en Annette alles in gebed aan die Here opgedra. (Sommige van ons gebedsversoeke verskyn aan die einde onder die Byvoegsels.)
Dit het soms gebeur dat ek en Annette nog nie eens gebid het nie, maar slegs ’n begeerte teenoor mekaar uitgespreek het, dat die Here voorsien het. Gedurende hierdie tydperk was daar tye van benoudheid. Ons het egter altyd vrede gehad: die Here sal voorsien.
Jacques was nog op skool en het ook geld nodig gehad. Daar was bv. skoolfonds, projekte, sport, ensomeer. Daarin het die Here voorsien, sonder dat ons mense genader het.
Hier volg verskeie voorbeelde uit die Skrif wat ons in die tyd bemoedig het: Spr. 3:5-6, Ps. 68:20, 1Kor. 1:31, Ps. 32:8, Sef. 3:17, Ps. 44:6, Ps. 143:6, Ps. 50 (God cares for you), Matt. 10:29-31, Matt. 6:31&32, Jes. 55:11, Jes. 54:17, 2Kor.12:9, Matt. 6:25-33.
Op 7 Maart 1997 het ek die volgende in my joernaal aangeteken: “Die lewensmiddele in die huis begin min raak. Ek lees in die voorwoord van A.W. Lorimer se boek oor Le Torneau die volgende: [Lorimer verwys hier na wat George Müller gesê het. “Hy het gesê die uitsluitlike rede waarom hy besluit het om op God te vertrou om in al sy finansiële behoeftes te voorsien in antwoord op gebed, sonder enige beroep op mense, was om aan ’n weerspannige ongelowige geslag te kan toon dat God nogsteeds die Lewende God is.”] Ek was nie van plan om die voorwoord te lees nie, ek wou net kyk hoe die woord “Le Tourneau” gespel word. Dit is seker ook waarom die Here ons op hierdie pad gelei het. Dankie Jesus.
Op 8 Maart 1997 het nog iets uit “Springs in the Valley” my getref:Heb. 11:30. Ek haal Heb. 11:40 aan: “omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.”George Müller se kommentaar is:“Our heavenly Father never takes any earthly thing from His children unless He means to give them something better instead.”
Op 15 Mei 1997 het ek die volgende aangeteken: beteken hierdie woorde iets (rakende die besluit oor geen salaris)? Luther word aangehaal in Christianity in Crisis:“My conscience is captive to the word of God.... Here I stand I cannot do otherwise. May God help me.”
Ons het gedurende hierdie tyd baie bemoediging uit God se Woord ontvang. Hier is ’n paar voorbeelde:
22 Junie 1997 – Deut. 30: 11-14, Luk. 17:10, Matt. 21:22, Mark. 5:36“Moenie vrees nie; glo net.” Vir ’n tydperk van ongeveer twee weke het die volgende tot my gekom, eers deur Ds Ian Stuart se boodskap, daarna oor die radio, toe deur Dolf Germishuys, ’n NG-leraar, se getuienis en daarna deur ’n lied wat gesing is in die Filadelfia Baptiste gemeente.
Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
18nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.
Hab. 3:17&18(1983-vertaling)
Op 5 Februarie 1998 lees ek in die Lewende Bybel die woorde: “neem alles wat julle kwel na Hom toe en laat dit daar by Hom want Hy het verantwoordelikheid geneem vir julle.”(1Pet 5:7).
Ek het in Januarie 1999 die laaste aantekening oor hierdie saak gemaak in ’n boek: “Iemand gee R1,000.00 vir Jacques se skoolfonds.” Daarna het ek nie weer oor hierdie saak aantekeninge gemaak nie en hierna het ons weer begin om ’n salaris van die gemeente te aanvaar.
Gedurende hierdie tyd het die Here ons geleer dat Hy ons Voorsiener is.
Ek het nou afgetree en my maandelikse pensioen oorskry nie die R 1,000.00 kerf nie. Die grysheid het oor my gekom, maar ek word herinner aan God se Woord aan my uit Jes. 46:4, opgeteken op 24 Januarie 1997:“en tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ék het dit gedoen, en Ék sal julle opneem, en Ék sal dra en red.”
Ongeveer 25 jaar gelede het ek by die Filadelfia Baptiste Gemeente op Secunda betrokke geraak. Die gemeente het toe bestaan uit ongeveer 5 gesinne en ’n paar individue. Die Kerkgebou waarvan net die “dop” gebou was, is deur die lidmate in die gemeente voltooi.Ons het die werk self fisies gedoen. Daarna het die leiers in die gemeente besluit, ek glo onder leiding van die Heilige Gees, om ’n klein huisie op die terrein te bou. Dit was om te voorsien vir die dag wat ek sou aftree. Weereens is slegs die “dop” en ’n klein bietjie meer gebou. Die lidmate het weer ’n keer self die gebou voltooi. Ek was bevoorreg om hier ook betrokke te wees. Ons het later ook saam met die klein groepie gelowiges ’n tweede huisie gebou en het verskeie predikers, sendelinge en ook lidmate hier gehuisves.
Toe tree ek af.
Ek en Annette woon nou in die huisie wat jare gelede vir ons gebou is. Die huis het ’n 12 voet baksteen muur aan die eenkant, ’n palissade heining aan die oopkant en ’n elektriese heining reg rondom. Daar is ook ’n reënwatertenk en ’n sonkrag/elektriese waterverwarmer.
Die Here God was ons Voorsiener, ons Beskermer, ons Geneesheer, maar bo alles ons Redder en Hy is dit steeds! Dit is Hy wat nog steeds vir ons voorsien, maar hoe sal ek nie nou in besonderhede beskryf nie.
Ons moet net sê: “Alle eer aan die Here alleen, vir Sy genade oor ons.”
WONDERLIKE GEBEURTENISSE
Daar is so baie wonderlike sake waarvan ek kan getuig, buiten vir dit wat reeds hierbo genoem is. Daar is baie ander wat ek nie genoem het nie.
Toe ek 34 was, het ons vir onsself ’n nuwe voertuig gekoop. Ek het ’n borg wat die bank vereis het, geweier. Tog het die Here die koop laat deurgaan. Dit was Sy voorsiening en genade.
Daar was ooknog ander sake,maar ek wil slegs twee noem.
Jacques se aanneming.
Ek en Annette was alreeds ’n klompie jare getroud, toe ek een van ons familielede gaan ondersteun het tydens ’n egskeiding. Ek het hulle by hulle huis gaan sien. Annette en ons drie kinders het in die motor gewag. Na ’n lang gesprek het ek besef dat die enigste manier om die huwelik te red, sou wees as die kind wat die vrou verwag het, aangeneem kon word, aangesien daar beskuldigings van huweliks-ontrou was.
Ek het voorgestel dat ek en Annette die kind aanneem. Toe ek terugkom by die motor, en nog voordat ek met Annette oor die saak kon praat, sê sy vir my: “Die kind gaan na ons toe kom.”
“Hoe het jy dit geweet?”
Haar antwoord was: “Die Here het dit vir my gesê.”
“Hoe,” wou ek weet.
Haar antwoord was: “Daar was’n hoorbare stem.”Net soos die keer toe Jesus haar genees het van depressie in die kliniek in Pretoria...
’n Hoorbare stem, soos die van ’n mens? Ek het nog nooit soiets ondervind nie, kan dit wees? Baie mense sal seker skepties wees, maar die gebeure wat daarop gevolg het, het my laat besef dat die Here kan doen soos Hy wil; net soos met Samuel.
Ons het ons seuntjie by geboorte by die hospitaal gaan haal en saam met sy ma hof toe gegaan en daar die dokument vir die aansoek tot aanneming voltooi. Ons het ook sy geboorte geregistreer. Hy is weer terug hospitaal toe, want hy het geelsug gehad. Aangesien hy toe nog nie aangeneem was nie, was hy nie op ons mediesefonds nie en moes ons kontant betaal vir sy behandeling. Die dokter het uit sy eie aangebied dat ons hom kon betaal soos en wanneer ons kon.
Die dame by die hof het verder alles onder hande geneem om sodoende die aanneming te bespoedig. Omdat ons reeds drie kinders gehad het, het ons nie geweet hoe hulle ’n kind aan ons sou toestaan nie. Daar was baie papierwerk: verslae moes voltooi word, ens.
Secunda het op daardie stadium nie ’n maatskaplike werker indiens gehad wat vir ons ’n verslag sou kon voltooi nie. Die dame by die hof het ons egter op ’n dag geskakel. Sy het vir ons’n verslag voorgelees wat die maatskaplike werker van een van die buitewyke oor ons geskryf het. Die verslag was ten gunste daarvan dat ons die seuntjie aanneem. Sy het gevra of ons tevrede was. Ons was tevrede: die Here het voorsien. Binne ses maande het ons al Jacques se dokumente ontvang en was hy wettiglik ons kind.
Beskerming vir klein Jacques.
Toe Jacques tussen 2 en 3 jaar oud was, het hy siek geword. Pataloë wat van Middelburg na Secunda verskuif het, het ’n analise gedoen van sy bloed. Die uitslag was onrusbarend: sy bloedtelling was verskriklik laag en hy moes onmiddellik bloed kry. Ek is haastig hospitaal toe, maar daar aangekom, moes ek hoor dat hy nie meer gaan bloed ontvang nie. Die susters kon nie ’n geskikte aar aan sy arm kry om die naald in te steek nie. Hulle het gewag op ons huisdokter. Toe die dokter Jacques sien, het hy dadelik gesê dat die kind nie bloed nodig het nie. Die bloedanalise was foutief.
Die dokter by die Pataloë het my geskakel en seker vir ’n driekwart uur verduidelik wat fout gegaan het. Kortliks: met die verskuiwing van die pataloë na Secunda, was daar buise waarvan die vloeistof verouderd was. Dit het veroorsaak dat die bloed mikroskopiese klein bloedklontjies veroorsaak het wat “uitgefiltreer” is tydens die analise. In leketaal: slegs die water van Jacques se bloed is geanaliseer. Die dokter het sy sekretaresse na ons huis gestuur met sy tjekboek. Ons moes al die onnodige onkostes wat ons moes aangaan, vir haar gee. Hy het vir alles betaal.
Hoe wonderlik was die Here se beskerming nie: dit was deur Sy bestiering dat die susters nie ’n aar kon kry waarin hulle die naald vir die drip kon sit nie. Sou hulle kon voortgaan met die oortapping, kon dit Jacques se dood beteken het. Aan God al die eer vir Sy genade en goedheid aan ons.
’n Voertuig vir ons dogter.
Ons dogter Anné het op ’n stadium vir Netcare 911 gewerk en sy het op Kliprivier gebly. Wanneer sy af was, het sy’n ander ambulansdiens gehelp met sportbystand.
Een oggend lui my telefoon. Toe ek die oproep antwoord, kon ek die chaos in die agtergrond hoor. Die stem aan die ander kant wou ons net in kennis stel dat Anné in ’n ongeluk betrokke was waarin haar voertuig afgeskryf is. Deur die Here se genade is sy egter nie ernstig beseer nie.
Die dokter het Anné vir ’n paar dae op siekeverlof gesit sodat sy kon herstel. Sy het by ons kom aansterk en daar moes toe plan gemaak word vir ’n voertuig vir haar. Sy het redelik ver van Mulbarton Hospitaal waar sy gewerk het, gebly.
Ek het een aand in die bad gesit en wonder hoe ek haar kon help. Ons het op daardie stadium R18,000.00 tot ons beskikking gehad. ‘n Gedagte het my binne geskiet: jy het R 20,000.00 nodig. Ek sou ’n plan kon maak.
Ons het in my kar geklim en op die Oos-Rand gaan soek na ’n geskikte voertuig. Daar was niks vir onder R 35,000.00 beskikbaar nie. Die Dinsdag was’n vakansiedag. Ek het in Secunda en in Trichardt rondgery. Tot my skande moet ek erken dat ek op ’n stadium vir die Here gesê het: “As ek nie in die bediening was nie en nog by SASOL gewerk het,sou ek vir haar ’n voertuig kon koop.”
Ek het aanhou soek.
Uiteindelik was dit in Secunda waar ek’n voertuig waarvan die prys slegs R20,000.00 was ,by ’n motorhandelaar sien staan het. Ek het die eienaar genader, die voertuig deurgekyk en besluit om dit te koop. Die verkoopsman het aangebied om die motorlisensie te betaal en te hanteer. Ek het sy hulp aanvaar, want teen Vrydag moes Anné weer aan diens wees.
Genadiglik het die verkoopsman ook onderneem omself die motor deur die padwaardigheidstoets te neem. Ek moes egter betaal vir alles wat aan die voertuig herstel moes word. Ons het ingestem, al het ek geweet dat ons nie die geld het nie.
Donderdag het Anné van die motorhandelaar af weggery in haar “nuwe” motor. Daar was geen ekstra geld nodig vir herstelwerk nie. Al wat ons moes betaal, was die bedrag waarvoor die voertuig geadverteer is!
Ek het in trane voor die Here gesit, vol berou oor my gedrag én oor die feit dat ek my vertroue nie in Hom gestel het nie. Weereens het ek ervaar dat die Here genadig is en dat Hy wonderlike dinge kan laat gebeur – ten spyte van ons feilbaarheid.
LEWENSKRISISSE
Ek het alreeds vertel van Annette se depressie en haar wonderbaarlike genesing deur ons Here Jesus Christus. Daar is nog baie ander krisisse wat oor ons lewenspad gekom het en waaruit die Here Jesus ons gehelp en verlos het –alles deur Sy genade. Ek wil vertel van net een so ’n krisis.
Dwelmverslawing en bevryding
Ek het vroeër vertel van die Here se leiding toe ons Jacques aangeneem het. Die kind het groot geword en was ’n uiters voorbeeldige en gehoorsame kind. Op laerskool het hy goed gedoen beide in sy akademie en op sportvlak. In Gr. 6 het hy vir die skool se eerste rugbyspan gespeel. Sy span het teen ’n aantal skole wat twee keer so groot soos hulle was, gespeel. Hulle het daardie jaar die Super Ses trofee gewen. Hy is in sy Gr. 7-jaar geskies as Onderhoofseun, i.e. die Hoofseun Sport. Benewens rugby het Jacques ook uitgeblink in krieket en atletiek. Daarby was hy ook ’n redelike goeie swemmer in al die swemstyle. Hy was werklik ’n begaafde kind.
Op hoërskool het Jacques se gedrag skielik begin verander. Ons was geskok om ’n ongehoorsaamheid in ons seun te bespeur. Hy het leuens begin vertel en het ook ander gedragsafwykings begin toon. Ons het tot ons verbystering vasgestel dat hy in dwelmverslawing verval het. Hy is waarskynlik geteiken omdat hy gewild was. Al was al die tekens daar, het ons geweier om te glo wat ons bespeur het. Dit was nie die gedrag van ons voorbeeldige seun van die vorige 13 jaar nie.
Aanvanklik het ons die saak self probeer hanteer, maar ons het hopeloos misluk. Baie mense, veral in die gemeente, het ons ondersteun. Sommige kollegas in die bediening se uitspraak was egter: “Probleemouers, nie ’n probleemkind nie.”
Ek en my seun het by verskeie geleenthede hand-gemeen geraak. Dit was elke keer as gevolg van agressiewe gedrag teenoor sy ma of myself wat ek onder beheer moes bring.
Ons het alles in ons vermoë gedoen om Jacques te help, maar ons moes uiteindelik professionele hulp kry.
Jacques was vir ’n ruk in die Elimkliniek in Kemptonpark. Toe was daar ’n insident waarin die polisie betrokke was en waarin ons kind beseer is: hy moes’n operasie aan sy hand ondergaan. Die probleme het ontstaan as gevolg van dwelms wat die kliniek binnegekom het. Ek het die kliniek op Noupoort in die Noord-Kaap genader en ons seun, toe nog baie jonk, is toe daar opgeneem.
Ook hier het die Here Jesus finansieel onderneem. Iemand het die fooi van R 16,000.00 vir Jacques se opname betaal. Jacques was gewillig om te gaan, want hy wou loskom uit die hel waarin hy vasgevang was.
Die Noupoort kliniek het daarop aanspraak gemaak dat hulle behandeling’n Christelike basis gehad het. So het hulle gesê...
Ons kon vir ’n hele lang ruk glad nie enige kontak met ons seun hê nie. Ek het in daardie tyd ook betrokke geraak by ander jongkinders en hulle families waar daar probleme met dwelmmiddels was. Op ’n keer het ek ’n ander jongseun na ’n rehabilitasiesentrum vir dwelmslawe anderkant Noupoort geneem. Die sentrum was naby Graaff Reinet en het bekend gestaan as Family Outreach Ministries (FOM);’n pragtige plek.
Op my terugreis na die Noorde het ek besluit om tog by Noupoort te stop om te sien of ek Jacques nie gou kon sien nie. Na ’n lang wag het hulle hom na my toe gebring. My kind is nie toegelaat om sy kop op te lig wanneer hy met my praat nie. Hy was maer en uitgeteer. Ek het van die personeel verskil oor hulle hantering van my seun en het hom saam met my geneem. Die bestuur het geeïs dat die volle betaling vir sy verblyf nog steeds gemaak moes word.
Ek het Jacques dadelik na ’n winkel geneem waar ek vir hom’n “russian& chips” gekoop het om te eet. My hart wou breek toe ek sien dat hy nie eens ’n kwart daarvan in sy liggaam kon kry nie...
Ek het my seun aangemoedig om met my te gesels. Hy het vertel dat hy op ’n stadium in die kliniek op Noupoort saam met drie ander jongmanne aan ’n spoorweg spoorlêer vasgeketting is. Hy is ook in ’n sel opgesluit. Die daagliksevoedselrantsoen was ’n 2lt roomysbak met pap in – vir die vier van hulle.
Jacques het getuig dat hy ernstig gebid het dat die Here tog sy pa sou stuur om hom te kom sien en te help. En toe daag ek daar op. Hierdie wete bly tot vandag toe nog by hom: die Here hoor as ons bid.
Die twee van ons het sommer dadelik koers gevat terug Graaff Reinet toe: na die FOM.Ek het my seun daar ingeskryf. Hier het hy baie goeie behandeling ontvang. Die prediker daar was ook op ’n tyd ’n dwelmslaaf. Hy het teologie gestudeer en ook die kursusse by die Nasionale organisasie vir dwelmafhanklikes deurloop. Die behandeling by hierdie instelling was heeltemal die teenoorgestelde van dit wat Jacques moes deurmaak op Noupoort. By die FOM is na die jongmense se fisiese, emosionele en geestelike welstand gekyk. Jacques het hier praktiese vaardighede aangeleer. Hy het leer kook en bak en dit het die basis gelê vir sy uiteindelike kwalifikasie en latere werk as ’n Sjef.
Jacques is later ontslaan en het huis toe gekom. Hier het ons hom gehelp om hom te bekwaam as ’n Sjef (Chef). Hy het by verskeie restaurante en gastehuise praktiese ondervinding opgedoen.
Tog het Jacques weer teruggeval in dwlemmisbruik. Die situasie was uiters moeilik: ons kon nie 24 uur per dag oor hom waghou nie. Hy moes self besluit dat hy bevry wou word van hierdie harde meester. Ons het hom na ’n ander sentrum toe geneem: Shiekaina Care in New Hanover anderkant Pietemaritzburg. Dit het daar goed gegaan met hom. Hy het sterker teruggekom huis toe.
Jacques het begin werk. Hy het verskeie poste beklee. Hy het o.a. by Bidvest (Chipkens) gewerk. Later is hy na Toadbury Lodge waar hy die “Executive Chef” was. Hierdie Lodge is naby Lanseria en is gewild onder TV- en Filmsterre, asook vir funksies soos huwelike ens.
Jacques was egter steeds nie vry nie. Ek en Annette het in vrees gelewe; in afwagting. Elke keer wat die foon gelui het, het ons gewonder of Jacques weer teruggesak het Deur die genade van ons Here en Verlosser gaan dit egter nou nie meer so nie.
Ons het aanhou bid en ons seun ondersteun. Hy was die meeste van die tyd ‘skoon’, maar het by tye teruggegly. Deur die genade van die Here is hy nou skoon van dwelms. Hy is nou al 12 jaar met ’n pragtige vrou, ’n NG-leraar se dogter, getroud. Die twee het ’n pragtige seuntjie van 3 en Jacques se vrou is nou weer swanger (2020) met ’n nuwe babatjie.
Jacques ly ook aan bipolêre depressie en was al in verkeie psigiatriese klinieke vir behandeling. Hy moes al verskeie soorte medikasie gebruik, maar het egter al so verbeter dat hy nou heelwat minder medisyne gebruik en normaal funksioneer.
Een ding is egter seker: die Here Jesus het ons dwarsdeur al die tye van angs, gebed, benoudheid, finansiële behoefte en duisende kilometers se reis gedra – en so ook ons bediening.
Alle eer aan die Hom wat ons dwarsdeur die storms nooit alleen gelaat het nie. Hy bly getrou. Ook vir dit wat nog in die toekoms wag.
ROEPING TOT DIE BEDIENING
Tonie Verster, ’n Afrikaanse Baptiste predikant, nou reeds by die Here, kon pragtig sing. Hy het twee CD’s uitgereik. Op die versameling is daar twee liedere wat vir my uitstaan, waarin die volgende woorde voorkom:
Oor redding: “Who am I that the King of kings should die for...”Oor my roeping tot die bediening: “It was business as usual until He said: ‘Follow Me.’”
Ek onthou vandag nog dat ek op ’n stadium predikant wou word. Ek was toe in standerd vier (Gr.6). Ek glo nie die begeerte het ses maande gehou nie, toe was alles vergete.
Terwyl ek grootgeword het, was die lewe in my ouerhuis soos ek vroeër beskryf het. Na my weder-geboorte in Suidwes-Afrika (Namibië) is ek terug Suid-Afrika toe. Ek het later die weermag bedank en by SASOL gaan werk. Gedurende daardie tyd het ek by die Vaaldriehoek Tegnikon gaan studeer vir ’n Chemiese bedryfsdiploma. SASOL het vir my studies betaal.
Dit was gedurende my eerste studiejaar wat ek tot die besef gekom het dat die Here my tot Sy diens roep. Ek het geweet dat Hy my in die bediening wou gebruik.
Ek het persoonlik al so baie getuienisse, van manne sowel as vroue, hieroor gehoor. Ek het ook daarvan gelees in biografieë en ander boeke. Wat hier volg, is wat ek ervaar het. Baie predikante mag hiervan sê: “Verkeerde eksegese.”Hulle mag dalk sê dat ek dit nie op my van toepassing kan maak nie. Maar hier is dit in elk geval. Ek maak weereens nòg’n leerstelling hiervan, nòg bied ek dit aan as die beste metode vir ander om na te volg. Elkeen wat deur die Here geroep is tot Sy diens, het immers sy eie unieke roeping.
’n Begeerte om mense met die woord te gaan bedien, het in1979 in my hart ontstaan. Ek het op daardie stadium reeds getuig, traktaatjies versprei en vir ander van Jesus vertel.
Ek het in my joernaal die volgende aantekening gemaak:
03/02/1979:“... nie na baie volke wat duister van spraak en swaar van tong is nie,”(Eseg. 3:6a).
22/08/1979:“Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.”(Jes 6:8).
Lank voor 1979 het die volgende Skrifgedeelte reeds tot my gekom: “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy 'n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku.” (Eseg. 3:17; 33:7).
01/10/1979:Die Here sê:“16...Ek (het) aan jou verskyn om jou te bestem tot 'n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn,17terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou nou stuur,18om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en 'n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang.” (Hand. 26:16-18).
24/10/1979:“4Die woord van die Here het dan tot my gekom en gesê:5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot 'n profeet vir die nasies gemaak.6Toe het ek gesê: Ag, Here Here, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.7Maar die Here het vir my gesê: Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek.8Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red, spreek die Here.” (Jer. 1:4-8).
12/10/1980:“En dadelik het Hy hulle geroep, en hulle het hul vader Sebedéüs met die gehuurde mense in die skuit laat staan en Hom gevolg.”(Mark. 1:20).
25/10/80: Jes. 65:5
21/11/80: Jes. 44:13; Luk. 1:18,20
20/05/81: 2 Kor 1:21,22
25/10/81: Ek oorweeg die Vlaamse Sending, maar – Eseg. 3:5 en 3:18.
Junie 1982: weer die volgende verse – Jes. 6:8; Mark. 1:20; Luk. 1:18&20;“...ek sal U my geloftes betaal.” (Ps. 66:13b).
Dan is die volgende inskrywing in my joernaal: “DIE HERE ROEP MY!”
Na vas en gebed het die volgende tot my gekom: Die Heilige Gees sal ons lei (Hand. 16:6-7, Hand. 16:8-10, Matt. 2:9, 1 Sam. 17:47,tydens oggendgodsdiens en die boek “Building a Broken World.”
Die volgende verse spreek ook tot my:1Sam. 17:45-47, Mark. 10:27-31 (21/6/1982), 2Tim. 4:1-3, Jona 3:1-3 (26/06/82).
1982: Rigters 6 veral verse 14b: “... Is dit nie Ek wat jou stuur nie?” en 16: “Ek sal met jou wees, ...”
Op 30/06/82 het ek uiteindelik besef dat dit nou tyd was vir aksie. Ek wou by die Here hoor wat ek moes doen, dus het ek Sy leiding gesoek en gekry:
“En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.” (Hand. 9:6).
Hierna het ek gedoen wat die meeste mense as onlogiese sou beskou. My besluit is gemaak: ek sou stad toe toe gaan: Johannesburg. Omdat ek het nie vervoer gehad nie, moes ek ryloop. Natuurlik het ek vir die Here gevra vir leiding. Ek het in die stad rond-geloop, maar nie geweet waarheen nie. Ek het verskeie boekwinkels besoek.
In een van die boekwinkels, ’n Christelike boekwinkel, het ek met ’n dame begin gesels. Ons het gepraat oor sending. Sy het aanbeveel dat ek die Baptist Union se Sending afdeling kontak. Ek het reguit na die Johannesburg stasie gestap en hulle geskakel. Die persoon met wie ek gesels het, was Herbie Beherens. Hy het aanbeveel dat ek eers moes gaan studeer.
Met die kennis is ek terug Evander toe. Ek het met Ds. Neels Oosthuizen, toe die leraar by die Afrikaanse Baptiste Kerk Evander, gesels. Hy het vir my’n afspraak gemaak by die Seminarium van die Afrikaanse Baptiste Kerk en my soontoe geneem vir ’n onderhoud.
My aansoek is goedgekeur en aan die begin van 1983 het ek met my studies begin. Omdat ek voltyds by die Seminariumwou studeer, moes ek natuurlik by SASOL bedank. My familie het gedink ek is van lotjie getik om “so iets te wil aanpak.”
Ek, Annette en ons drie kinders het in een van die woonstelle op die Seminariumgronde ingetrek. Twee van ons kinders is by Laerskool Impala ingeskryf. Annette het werk gekry in Johannesburg en het daagliks die trein gehaal op Van Riebeeckstasie wat naby die Seminarium geleë is. Van die mense by die Seminarium het ons gehelp met die versorging van die kinders.
Later het ek in die middae by die destydse Jan Smuts Lughawe begin werk, by die Doeane. My skof was vanaf die middag tot middernag. Soggens het ek klasgeloop en smiddae gewerk. Johan Marais het saam met my by Doeane gewerk. Nicki Coertze, Frik Labuschagne, Johan Marais, Albert Theron en Andries Bezuidenhout het, onder andere, ook dieselfde tyd as ek by die Seminarium gestudeer.
Finansieel het dinge maar moeilik gegaan terwyl ons by die Seminarium gewoon het, maar die Here het op verskeie maniere voorsien.
’n Gewese kollega wat saam met my by SASOL gewerk het, het ons kom besoek in Kemptonpark. Gelei deur ons gesprek, het ek besluit om voltyds terug te keer na SASOL en op ’n deeltydse basis voort te gaan met my kursus by die Seminarium. Ek het tot en met einde 1987 by die Seminarium gestudeer. Daarbenewens het ek voltyds by SASOL gewerk en was ek ook betrokke in die Evander gemeente. Gedurendehierdie tyd was Ds. Attie van Wyk die leraar in Evander.
Alle eer aan die Here Jesus Christus wat nietige stof – soos ons –in Sy koninkryk kan en wil gebruik.
Die BEDIENING
Die Evander gemeente het my beroep as Studente-leraar. In Oktober/November 1987 is Ds.Van Wyk weg by die Evander gemeente. Ek het voortgegaan met die bediening aan gemeente terwyl ek by SASOL gewerk het.
1988 was vir my ’n jaar van eerstes. Aan die begin van die jaar het ek die leraar geword van die Evander gemeente, alhoewel ek steeds as Bedryfsopleier by SASOL aanhou werk het. Dit was ook gedurende daardie jaar wat ek my eerste voertuig gekoop het. Omdat my pa gedurende 1988 oorlede is, was sy begrafnisdiens die eerste een wat ek moes waarneem. Dit was ook in 1988 wat die Afrikaanse Baptistekerke my aanvaar het as Proefleraar.
Eending wil ek graagsommer dadelik duidelik stel:Nie één van die dinge wat ek hier beskryf, was as gevolg van my teenwoordigheid in die Evander gemeente nie. Dit was my voorreg om deel van die gemeente te wees gedurende die tyd wat die Here groot dinge vir die gemeente gedoen het. Aan Hom en aan Hom alleen al die eer, lof, aanbidding en danksegging. “Die wat roem, moet in die Here roem.”
Die Evander gemeente het op daardie stadium maar min lidmate gehad. Die bywoning by die oggenddienste was ongeveer 15 volwassenes en in die aand slegs 5 – net twee gesinne. Van tyd tot tyd het ’n dame vir ons kom orrel speel todat sy ook verhuis het. Daarna moes ons sonder ’n orrelis klaarkom. Ons het dit ’n saak van gebed gemaak en die Here het in antwoord op ons gebed vir ons die Kruger gesin van Elliot afgestuur. Marthie het dadelik begin as ons orreliste.
Die gemeente op Evander het ’n uitstekende geleentheid gehad om hulle skuld af te betaal. Die pastorie is verhuur en die gemeente het nie nodig gehad om ’n leraarte betaal nie. Die gemeente het vroeër R9,000.00 by die ABK geleen.Aangesien die rente opgeloop het, kon hulle nou R 25,000.00 terug betaal. Die gemeente het ook ’n groot bedrag aan die SA Permanente Bouvereniging geskuld.
As gevolg van die verbetering in die gemeente se finansies, kon hulle, soos ek vroeër gesê het, begin om ook ’n maandelikse bydrae aan die ABK te maak. Verder kon hulle nou sendelinge finansieel ondersteun. Die gemeente se skuld is, deur die Here Jesus se wonderlike voorsiening, betaal. Nog ’n aantal mense het by die gemeente aangesluit.
’n Vriend van my wat ek in die weermag leer ken het, Ds. Frans van den Heever, het ons op Evander kom besoek. Hy was die weermagkapelaan se klerk en ons het saam in Suidwes-Afrika, waar ek tot bekering gekom het, diens gedoen. Na sy besoek het die gemeente besluit om hom as leraar te beroep. Ekself sou voortaan ’n hulp vir hom wees.
Dit was nog ’n leerskool wat ek seker moes deurgaan: nadat ek ongeveer vyf jaar die gemeente bedien het terwyl ek by SASOL gewerk het, is ds. Frans beroep en nie ek nie. Die twee van ons het die gemeente vir ’n tyd lank saam bedien.
Na ’n tyd het ek besluit om terug te staan. Hyhet alleen voortgegaan.’n Ruk later het ds. Frans die gemeente bedank en in dié tyd het Ds. Pieter Raulstone die dienste waargeneem. Na ses maande sonder ’n voltydse predikant het die gemeente my beroep as voltydse leraar.
Ons het op in 23 Julie 1994 in die pastorie ingetrek.
Gedurende die tyd wat ek by die gemeente was, was ek bevoorreg om deel te wees van die groot werk wat die Here Jesus in en deur die gemeente gedoen het.
Die Here het verskeie persone in die gemeente geroep tot die bediening. Sommige van hulle, soos Lukie Dercksen en Tommie Louw, het voltyds aan die Seminarium van die Afrikaanse Baptiste Kerk gaan studeer. Die gemeente kon, deur die Here Jesus se genadige voorsiening, ’n finansiële bydrae maak tot hulle studies.
Daar was ander studente wat as deeltydse studente geregistreer het. Ek het die voorreg gehad om betrokke te wees by hulle studies deur toesigte hou wanneer hulle moes eksamen skryf. Die gemeente kon verder vir hierdie deeltydse studente die geleentheid bied om praktiese ervaring in die bediening op te doen. Hierdie studente was manne soos Ian Stuart, Pieter Raulstone, Jaco Dercksen, en Frans van der Westhuizen wat later na Nieu-Zeeland verhuis het.
Onder Ian Stuart se leiding en met die hulp van ’n jongman, Thinus, het die gemeente saam met die NGK ’n groot bediening onder die jeug in die omgewing begin. Die bediening het aangehou totdat Ian later na Standerton beroep is.
Daar was ’n tyd wat die Evander gemeente, as gevolg van die aantal studente vir die bediening, die gemeentes in Standerton, Vryheid, Witbank en Middelburg op Sondae kon bedien, natuurlik in ’n tyd wat hierdie gemeentes nie oor predikers beskik het nie. Ekself en van die studente wat beurte gemaak het om daardie gemeentes op Sondae te bedien. Dit was alles moontlik deur die genade van die Here Jesus Christus.
Verder het ek die voorreg gehad om deur die jare te dien op die destydse Sendingkomitee van die ABK. Ek het ook vir ’n aantal jare op die Uitvoerende Komitee van die ABK gedien en een jaar as President. Ek onthou nog die woorde van Ds. Wessel Venter toe ek die eerste keer voorgestel is om op die Uitvoerende Komitee te dien, maar die voorstel afgewys het. Dit was iets soos: “Wie gee jou die reg om te weier as die Here Jesus jou wil gebruik?”
Deur die genade van die Here Jesus het die gemeente betrokke geraak in Embalenhle en kon ons hulle daar ook help met ’n prediker, Sydney Whelile Macintosh. Ons het fisies gewerk aan die bou van die predikant se huis en Sydney gehelp om verskeie kursusse, seminare en ander opleiding te deurloop.
In 1995 het ek weer kontak gemaak met die Filadelfia gemeente, die Afrikaanse Baptiste gemeente, wat in Secunda geplant is deur Dr. Johan van Wyk. Die kerkgebou was gedeeltelik voltooi: die gebou, dak en staaldeure was in. In die gemeente was daar ongeveer vyf gesinne en ’n paar enkelinge oor. Hulle was egter getrou en het voortgegaan met die bediening in Secunda. Dienste op daardie stadium in ’n tydelike gebou geho uin die area wa in Secunda bekend staan as Silkaatkop. Ook hier het die Here wonderbaarlik voorsien.
Ons het self die meeste van die werk aan die voltooiing van die Filidelfia gemeente se gebou gedoen; selfs die riolering, deure, elektriese werk, wasbakke, matte, ensomeer. Die NGK se een wyk het na ’n tyd ook begin om gebruik te maak van die gebou. So het hulle ook ’n bydrae gelewer tot die voltooiing van die gebou.
Die Filidelfia gemeente gaan nogsteeds voort en ek bedien, deur die genade van ons Here Jesus Christus, tans (2020) ook hier.
AFTREDE
My tyd vir aftrede by die gemeente in Evander het in Maart 2020 aangebreek. Dit was aftrede, maar nie uittrede nie. Ek bedien tans die Filadelfia gemeente in Secunda, maar hoofsaaklik net tydens oggenddienste.
Ook hier moes ek sekermaak dat dit die regte besluit is. Ek is nog redelik jonk – op 3 Mei 2021 het ek my 67 ste verjaardag gevier. Daar is egter’n paar gesondheidsprobleme wat aan my lyf kleef. Op die oomblik gebruik ek ’n hele handvol medikasie: vir hoëbloeddruk, hoë kolesterol, diabetes (inspuitings en tablette) en medikasie om die hartklop te beheer na die drie “stents” in hy hart. Ek gebruik ook medikasie om die bloed “dun” te hou. Al hierdie dinge het ’n rol gespeel in my besluit om af te tree.
Alhoewel ek besluit het dat ek wou aftree en nie meer al die verantwoordelikhede van ’n gemeente wou behartig nie, wou ek graag nog preek. Ek en Annette het oor die saak gebid en ek het die volgende aangeteken:
1. “Want julle sal nie baie haastig weggaan en nie soos vlugtelinge vertrek nie; want die Here trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede.”(Jes. 52:12).
2. Ek het die Here vir nog Skrif gevra, sommer meer as een en toe kry ek die verse wat Annette lank terug agter in die Bybel geskryf het:
i) “Skrik nie vir hulle nie, want die Here jou God is by jou, 'n groot en gedugte God.”(Deut. 7:21).
ii) “Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.”(Open. 3:8).
iii) Joshua hoofstuk 1:Wat uitstaan is:
Die volk moes deur die Jordaan trek.
Die woorde “Wees sterk en vol moed” kom vyf keer voor.
iv) “Toe sê Natan aan die koning: Gaan heen, doen alles wat in u hart is, want die Here is met u.” (2Sam. 7:3).
v) Eseg. 12: “3Maar jy, mensekind, maak vir jou toebereidsels om in ballingskap te gaan, en gaan oordag in ballingskap voor hulle oë; vertrek soos ’nballing voor hulle oë, van jou woonplek af na 'n ander plek toe-miskien sal hulle dit sien, want hulle is ’n wederstrewige huis.4En jy moet jou goed oordag uitbring voor hulle oë soos die goed wat vir 'n ballingskap nodig is; maar self moet jy in die aand uitgaan voor hulle oë soos die wat in ballingskap uitgaan. 5Breek vir jou ’n gat in die muur voor hulle oë, en bring dit daardeur uit. 6Voor hulle oë moet jy dit op die skouer dra, in die pikdonker moet jy dit uitbring; jou aangesig moet jy bedek, sodat jy die land nie sien nie; want Ek maak jou tot 'n sinnebeeld vir die huis van Israel.”
vi.“29Toe het ek aan julle gesê: Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie. 30Die HERE julle God wat voor jul uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het.” (Deut. 1).
3. Ek het nog gevra en niks gehoor nie. Toe lees ek die volgende in ’n boek met dagstukkies: Indien die Here nie antwoord nie, is dit nie ’n teken van afkeur nie, maar eerder dat daar ’n seën volg. Die vrou wat nie deur die Here geantwoord is op haar roepe nie, het tog later ’n wonderwerk ervaar.
4. Ek het weer Kol. 1:9,10gelees na aanleiding van ’n uitstaande gedeelte wat agter in die LEWENDE BYBEL geskryf is: “Ons vra God dat Hy julle al die wysheid en begrip sal gee wat van die Heilige Gees kom sodat julle baie duidelik sal weet wat Hy wil hê julle moet doen.”
Bogenoemde Dokument is geskep op 14 Februarie 2020 om 10:07:46 AM.
Ek het op 31 Maart 2020 afgetree. Ons het die Evander gemeente na meer as 41 jaar as lidmaat, en meer as 31 jaar as leraar van die gemeente verlaat.
Soos ek vroeër genoem het, het die leiers van die Filadelfia Baptiste gemeente besluit, ek glo onder leiding van die Heilige Gees, om ’n klein huisie op die terrein te bou. Ek en Annette woon nou in hierdie huisie wat jare gelede vir ons gebou is.
Finansieel voorsien die Here nogsteeds vir ons soos en wanneer Hy wil. Ons sal voortgaan om Hom, ons Here en Meester te dien soos en waar Hy wil. Al die eer aan ons Here Jesus Christus alleen.
Die Here God was en is ons Voorsiener, ons Beskermer, ons Geneesheer en, bo alles, ons Redder.
Bykomende Inligting
Sommige noem hierdie deel van ’n dokument “Byvoegsels” ander “Aanhangsels.” Wat jy dit ookal wil noem, hier volg dit.
Die volgende inligting staan in besonder in verband met die tyd wat ons gelei is om geen salaris van die gemeente te neem nie. Ons behoeftes was nie aan mense bekend nie, want ons het die Here Jesus vertrou om te voorsien soos en hoe Hy wou.
GEBEDE TOT DIE HERE GOD
Ek het nie al ons gebedsversoeke opgeteken nie, slegs’n paar.
Die punte wat hieronder op ons gebedslys verskyn, is in ’n boekie opgeteken en verskyn net soos wat dit geskryf is:
1. Waspoeier en seep.
2. Brood.
3. Skoolfonds gelde
4. TV-lisensie gelde
5. Tandarts afspraak finansies
Op ’n tweede lys verskyn die volgende:
1. Tandarts afspraak finansies
2. Skoolfonds finansies
3. Mond- en Voetskilders gelde (Hulle moes betaal word vir kalenders)
4. Kortbroek vir Jacques en nog meer
5. Begrafnispolis premie(Fondse om dit te betaal)
6. Swart skoenpolitoer (ook bruin)
7. Vrugte vir Annette
8. Vleis
9. Kat- en hondekos, waspoeier en gesigseep
10. Vullissakke, brood, suiker, bruismeel, konfyt
11. Skoene – Jacques
12. Annette haresny (Finansies was nodig daarvoor)
13. Skoolmateriaal Jacques
14. Swart skoene – myself
15. Skoolfonds nuwe jaar
16. LBS gelde (Gelde moes aan SARS betaal word vorige jaar se belasting)
17. Kunstande – Annette
18. Jacques – skoolfonds
19. 2 Rokkies vir Annette
20. Broek en hemp vir my
21. Hondekos en katkos
22. Vullissakke
23. Jacques rugbykamp/sakgeld
24. Hondekos
25. Seeppoeier, skottelgoedseep, katkos, brood, botter
26. Finansies vir skoolfonds en polis
27. Mond- en Voetskilders (Donasie)
28. Skoene Jacques
29. Skoolfonds Junie, Julie, Augustus
Skuinsdruk is ingvoeg. Dit was nie op die oorspronklike lys in my joernaal nie.
DIE HERE VOORSIEN!
Hier onder volg ’n lys met’n paar voorbeelde van hoe die Here Jesus vir ons voorsien het gedurende die tyd wat ons geen salaris gekry het nie. Ek plaas dit soos dit in my joernaal aangeteken is. Soms is die name van die skenkers aangeteken; in ander gevalle nie. Soms is ook die naam van die lid van ons gesin vir wie dit geskenk is, aangeteken; en in ander gevalle nie – gewoonlik wanneer dit vir die gesin geskenk is.
27/10/96 - R 300.00 ( Pieter en Cecelia) - R 30.00 (Mientjie) - Kos, kruideniersware, lekkers &koeldrank.(Mientjie) – BAIE DANKIE JESUS
07/11/96 -R20.00 (Annetjie) -Brood, skoenpolitoer: bruin/swart - Broodjies by uitverkoping - Aandete (Hantie) – BAIE DANKIE JESUS
08/11/96 -Wortels, skorsies (Ron en Lynette) – BAIE DANKIE JESUS
21/11/96 -Brood en melk - R 3.00 (Brood) – BAIE DANKIE JESUS
26/11/96 -R 600.00 (Mond en voet skilders, offer) -Finansies (Tjek k/kas – Begrafnispolis) -Kruideniers – BAIE BAIE DANKIE JESUS
28/11/96 -Melk, vullissakke - Groente (Boontjies & pampoen) & ontbytkos - Pen & boeke (geskenk) “ACE”– BAIE DANKIE JESUS
29/11/96 -3 Bottels “ingemaak”– BAIE DANKIE JESUS
3/12/96 -Kool en Beet – BAIE DANKIE JESUS
12/12/96 - Battery motor en treinstel vir Jacques – BAIE DANKIE JESUS
16/12/96 -Kouse (Annette) – BAIE DANKIE JESUS
Ek volstaan hierby daar is nog vele meer wat in my journaal opgeteken is.
AAN DIE HERE JESUS CHRISTUS AL DIE EER EN DIE LOF EN DIE DANKSEGGING EN AANBIDDING VIR SY GENADE OOR MY EN MY GESIN.
Comments
Post a Comment